DIE SORGE VAN DIE LEWE | |
  |
Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle klein-gelowiges? Julle moet julle dus nie bekommer en vra: 'Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?' nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee (Matteus 6:25-33). Jesus sê dat ons nooit bekommerd moet wees oor daardie dinge waarin God beloof om te voorsien nie, omdat kommer baie nadelige gevolge het. Hoeveel nadelige gevolge van kommer beleef jy tans? Kommer breek jou liggaam af, want dit lei daartoe dat 'n mens nie kan eet of slaap nie. Dit lei daartoe dat jou gedagtes heeltemal oorheers word deur dít waaroor jy bekommerd is. Kommer belemmer jou vermoë om produktief te wees en het 'n negatiewe uitwerking op jou optrede teenoor ander. Dit belemmer ook jou vermoë om op God te vertrou. Daar is 'n verskil tussen kommer en opregte besorgdheid: kommer sal jou só lamlê dat jy niks aan die situasie kan doen nie, terwyl opregte besorgdheid jou tot optrede sal aanspoor. As jy aan God die eerste plek in jou lewe gee, beteken dit dat jy eerste na Hom sal gaan as jy hulp nodig het; dat Sy wil gedurig in jou gedagtes sal wees; dat Sy liefde en genade jou voorbeeld sal wees; dat jy Hom in alles sal dien en in alles aan Hom gehoorsaam sal wees. Wat is régtig vir jou belangrik? Mense, materiële dinge, behoeftes en begeertes is alles besig om vir die belangrikste plek in jou lewe te wedywer. As jy nie doelbewus vir God die eerste plek op elke terrein van jou lewe gaan gee nie, gaan dit vir enige van die ander dinge maklik wees om Hom van Sy eerste plek te beroof. SKATTE IN DIE HEMEL Moenie vir julle skatte op aarde bymekaar maak waar mot en roes dit verniel en waar die diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal ňf die een minder ag en die ander een hoër, ňf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie (Matteus 6:19-20; 24). Jesus sê dat ons net een baas kan dien. Ons leef in ‘n materia-listiese wêreld waar mense in diens van geld is. Hulle lewe draai om die bymekaarmaak van geld, maar as hulle sterf, bly dit in elk geval agter. Hulle sug na geld en die dinge wat geld kan koop, is baie sterker as hulle verbondenheid aan God en geestelike dinge. ‘n Mens bestee al jou aandag, tyd, en krag aan dít wat jy bymekaarmaak, wat dit ook al mag wees. Moenie in die strik van materialisme trap nie, want “geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad” (1 Tim. 6:10). Kan jy in alle eerlikheid sê dat God jou baas is, en nie geld nie? Toets jouself deur jou af te vra waaraan jy die meeste dink en werk. Jesus het op die kontras tussen hemelse en aardse waardes gewys toe Hy gesê het dat ons die dinge wat ewig is en nooit kan vervaag, verdwyn of ver-minder nie, hoër moet ag as die aardse dinge. Ons moenie behep wees met ons besittings nie, want dan besit ons besittings óns! As ons besittings dus besig is om vir ons te belangrik te word, dan sal ons moet besnoei. Jesus vra dat ons balans moet behou ten opsigte van die dinge wat ons besit omdat ons die ewige en blywende gekies het. - Die Bybel in Praktyk, CUM, 1993, Red. W Vosloo en F J van Rensburg. |